Met Louw Roodt se verdwyning ná ’n werkgeselligheid word Kristien Liebenberg se grootste vrees bewaarheid: Haar lewensmaat kom nie huis toe nie. Van die skrywer van Moordvis.
“KRISTIEN LIEBENBERG STAP van die eetkamer na die kombuis tot in die sitkamer. Sy draai rond sonder om iets te sien, loop terug op haar spore voordat sy plotseling in die middel van die vertrek gaan staan en vir die soveelste keer in ’n paar minute op haar horlosie kyk.
Dis drieuur in die oggend en steeds is daar g’n teken van Louw nie.
Wanneer jy instap van die stoep af, loop jy direk in dié ruim en gesellige vertrek in, maar vannag voel alles donker en onveilig. Asof daar mense in die tuin en op die stoep staan wat haar angstige heen-en-weerdery deur die gordyne dophou.
Die wrap-around, noem Louw die stoep graag. “Wat is dit nou weer in Afrikaans?” wonder sy byna elke keer wanneer hulle buite op die salige sagte bank gaan sit. “’n Rondomstoep?”
Nou voel dit soos rondomskrik.
Kristien glimlag. Trots is sy. Louw Roodt. Op die presiese Victoriaanse broekieskantpatroon aan die bokant van die stoep. Trots op elke sentimeter van hulle restourasiepoging. Maar veral trots dat sy ná al die jare die peperduur huis kon bekostig.
Dik ou binnemure is uitgehaal en ruimtes geskep met meer lig as wat Louw ooit kon onthou. Die vertrekke op die grondverdieping is in een groot woonruimte ingerig met goed geplaaste, ingeboude kaste, of afskortings wat sit, kosmaak en eet van mekaar skei.
Die donker eikehoutvloere is afgeskuur en lig gebeits, die mure ook wit met spatsels kleur op die grys banke in die sitkamer. Ligte hout vir die eetkamertafel en -stoele. Kerse orals.
“Skandinawies,” verklaar Louw graag. “Met ’n skeut Deense warmte – ‘hygge’, noem hulle dit mos.”
’n Bejaarde lelike eend getransformeer tot ’n nuwe blink ligte ruimte waarin ’n mens wil speel, werk, liefde maak.
Toe Kristien weer terugkom in die sitarea, weet sy nie hoekom sy daar
is nie, haar kop deurmekaar van vrees. Sy skuif ’n boek op die lae koffietafel twee millimeter na links, tel ’n ander een op en blaai daardeur sonder om eens af te kyk na die volbladglansfoto’s. Sy gooi die blink publikasie eenkant toe. Streep haar vingers deur haar kort blonde pixie-styl en loer vir die soveelste keer na haar horlosie.
Sy moes om en by elfuur aan die slaap geraak het met die televisie nog aan, haar oorfone uit gewoonte op haar kop omdat Louw altyd voor haar in ’n ligte gesnork wegraak asof sy nie ’n sorg in die wêreld het nie.
Maar eenuur skrik Kristien toe wakker met onrus in haar siel. Louw is nog nie by die huis nie. Louw het nog nie gebel nie. En toe Kristien haar in die hande probeer kry, antwoord sy nie haar foon nie.
Nou’s dit op die kop drieuur. Twee ure van ronddool, rondsit in die huis. Húlle huis.
“Normaalweg sou Louw darem wragtig al teen dié tyd laat weet het sy’s laat as dit nie iets misdadigs is wat haar oorval het nie.”
En nie taal of tyding van Louw nie. Nie ’n oproep nie, nie ’n WhatsApp of ’n boodskap van enige aard deur ’n kollega gestuur nie. Haar ergste vrees bewaarheid? Dat Louw iets sou oorkom wanneer sy laat moes uitbly vir werk?
Of is dit iets anders? Weer soos vyf jaar gelede toe sy ook nie huis toe gekom het nie?
Kristien gaan sit op ’n stoel. Net in haar los slaaphemp en die kort denim shorts wat sy gou aangepluk het toe sy nie langer in die bed kon bly nie.
Dis steeds so onuitstaanbaar warm. Terwyl dit met dagbreek, toe sy opgestaan het, gelyk het of dit so ’n pragtige dag sou word.
Sy kyk nog ’n slag in die sitkamer rond asof sy daar antwoorde sal vind. Die skilderye teen die wit mure. Meestal haar eie skeppings in pers en geel, rooi en blou. Vrolike kleure in soms somber temas. Haar oog val op die eerste een wat Louw soveel jare gelede gekoop het. Prominent bokant die rusbank.
Onstuimige wolke bo Tafelberg.
Wat op aarde gaan sy met haarself aanvang? Hoe gaan sy nie verskeur word deur haar besluiteloosheid nie? Hoe gaan sy dit regkry om nie nog ’n keer agter Louw aan te bel om te hoor waar de donner sy drieuur in die nag is sonder om soos ’n jaloerse wederhelf te klink nie? En bel sy nie, en Louw het iets oorgekom? Oor die kop geslaan vir haar horlosie, of haar laptop, of iets anders sinneloos?
N Daardie drywer van haar, die Zimbabwiër, is hy regtig te vertrou? En onmiddellik voel Kristien sleg omdat sy so oor die arme Trevor kon dink.
Terug kombuis toe. Maak die yskasdeur oop om van die filterwater in die kan te skink. Dis nou vyf oor drie. En dis steeds so warm van die dag se son dat jy voel asof jy die lug kan hap. Daar’s nêrens waarheen ’n mens van die Februarie-hitte kan ontsnap nie. Nie ’n swembad nie, nie lugreëling nie. Niks daarvan sou werk saam met die styl van die ou huis nie, het hulle besluit.
Net ’n koue stort, dis al wat oorbly, maar nee, nie nou nie. Netnou lui haar foon en dis Louw.
Sy kyk weer vir die soveelste keer na die selfoon wat sy ronddra. Asof dit sal help dat dit lui, of biep, of iets.
Weer maak sy die opsporing-app oop wat hulle onlangs vir mekaar geïnstalleer het. Louw is steeds op dieselfde plek as toe sy elfuur gaan slaap het.
Near Dock Road, sê die app. Moet die One&Only-hotel wees.
Normaalweg sou Louw darem wragtig al teen dié tyd laat weet het sy’s laat as dit nie iets misdadigs is wat haar oorval het nie. Veral omdat hulle vanoggend nie op goeie voet totsiens gesê het nie.
Kristien kyk weer op haar horlosie. Tien oor drie.
Sê nou haar selfoon is gesteel? Vergeet? Het uitgeval? Hoe sal sy weet?
Sê nou maar die polisie daag met grafgesigte hier op?
Wat gaan sy dóén? Nee, só kan sy nie aangaan nie. Sy moet Louw nog ’n keer bel. Nou dadelik.
En as sy nie antwoord nie, dan iemand, enigiemand. Uitvind of sy stapelgek aan die word is en of haar reaksie normaal is.”
Onttrek uit Op ‘n mooi dag, nou beskikbaar.
____________________________________________________________________________________________________________________________
|
U KAN OOK GENIET