Elkeen het ’n heelal in hul mond. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal.
“Jy was eers ’n seun gewees,” praat my ma dié dag skuins af na my toe.
Haar perd se rug is heelwat hoër as myne. Ek konsentreer so hard om nie van Kaneel af te val nie dat ek nie kan agterkom of sy my terg nie. My ouers, het ek vroeg reeds besef, is eiesoortige wesens met ’n aardige sin vir humor.
“Ek kon dit voel en toe vra ek die Here om jou in ’n dogtertjie te verander. En dat jy nie kort of donker soos ek sal wees nie, maar lank en blond. Die dag toe jy verander het, het ek my heeltyd verbeel ek ruik die allerlieflikste roosgeur, maak nie saak waar ek was nie. En ek het bly lus kry vir kaas. Kan jy glo?” Sy glimlag vir my.
Ek kyk bekommerd af na tussen my bene.
“Op ses maande. Toe voel ek hier verander jy nou.
Daai aand toe Ma my in die bed sit, voel ek iets kouds teen my been onder die komberse. Ek lig die komberse blitsig op, want Ma moet gereeld skerpioene by die venster uitgooi. Sy en Pa het albei Ou Vicks en Koot en veral die kinders verbied om enigiets op die werf dood te maak. Soms kom sit my ma kwansuis langs my om te lees en dan sien ek, ja-nee, hier loop al weer ’n hotnotsgot in haar hare. Sy weet ek gril my krom vir daai boloog-gogga.
Ek’s verlig om te sien dis ’n houertjie. Nietemin is ek versigtig, want my ma glimlag ondeund. “Maak dit oop!”
In die boksie op ’n stukkie watte is die dop van ’n reusagtige swart miskruier.
“Is hy nie pragtig nie? Kyk net sy horings. Kompleet nes ’n mini-oerdiertjie! Kan jy dink as mens hulle so groot soos my Volksie gekry het?” gesels sy in verwondering.
“E … dankie.”
My ma tel die skelet op en soen dit voor sy dit op die bedkassie langs my neersit. “Hulle gee my soveel hoop.” Sy vat saggies aan die dop en gaan sit by my voetenent met ’n waslap.
Ek skop my voete oop sodat Ma hulle eers kan afvee. Van kleins af, toe ek glo geslaapwandel het, kom tjek sy my voete saans om seker te maak hulle is skoon. As hulle in die oggend vuil is, weet sy my nagdwalery het weer begin.
“Hoekom?”
“Omdat miskruiers my aan die Here laat dink. Hy vat ons gemors en maak dit weer bruikbaar.”
“Jak!” trek ek my gesig.
Ma bekyk my groottone. “Jy’s met ingroeitoonnaels gebore. ’n Mens se groottoon is jou rigtingwyser. Dis belangrik dat hulle versorg en gesond bly.”
“Ma, hoekom is Mamma so lief vir insekte?”
Sy gee ’n lang, droomverlore sug en vou my voete toe. “Omdat insekte tonne kos vreet en hulle nooit vet raak nie. As hulle eers volwasse is, lyk hulle die res van hul bestaan so. En hulle word nooit oud nie. Hulle eindig net.”
My suster lag dat sy spoeg. Van kleins af is sy gek oor dié storie. En haar kommentaar is altyd: “So dís hoekom jy altyd lang rompe dra, hè? Om jou appelkose weg te steek. En toe gee Ma vir jou ’n dooie tor as troos?”
“Voertsek, man! Jy verdraai die storie.”
Ons bestel nog ’n ronde. Dis lekker om saam te lag. “Waar is jou dung beetle nou, Koos Sneeuvlokblom?” vra my suster.
“Geen mens weet nie.”
My pa het glo eers ’n paar dae ná my geboorte opgedaag nadat hy weke tevore al verdwyn het. Hy het nie lank gebly nie. Sy verskoning was dat hy ’n ongeluk met ’n bromponie gemaak het. Ma het later uitgevind dis tydens ’n dare afgeskryf. Nog later sou sy hoor dat daar ’n pop agterop die motorfiets was toe Pa balans verloor het sodat pop en bike langs die pad in ’n boord beland het.
Ou Vicks het my die storie vertel van die dag toe Ma op ons kleinhoewe buite Windhoek in kraam gegaan het. Op ’n Goeie Vry¬dag. En niemand kon die Volksie aan die gang kry nie. Omdat Pa weg was, moes Koot met ’n trekker na die buurmense ry, want die telefoonpale het in ’n fratsvloed weggespoel en die drade was nog nie herstel nie. Teen die tyd dat die oompie en die tannie van langs¬aan opgedaag het, het Ma al in die pakstoor probeer om self die nuk¬kerige dieselkabaal aan die gang te kry. Dit was ’n gesukkel, want met haar boep kon sy nóg moeiliker bykom. Sy was te kort en moes half staan en bestuur, want die trok se sitplek was nie beweeglik nie. Intussen het Ou Vicks histeries gepleit: “Kleinnoi, moenie! Asseblief, Jirre-god-van-grond-en-water, asseshêmblief! Kom af daar, hoe gaan jy die briek trap?”
Die buurman het egter geblyk so dierbaar en met soveel sorg te bestuur dat Ou Vicks oortuig was ek sou gebore word nog voor hulle by die plaashek kom. En dan was dit nog byna ’n driekwartier tot in Windhoek. En die hospitaal was moeilik om te kry.
saamgetrek. “Vertel klaar!” kerm ons en trek aan Ou Vicks se moue.
_________________________________________________________________________________________________
Anoeschka von Meck is die skrywer van die wegholsukses Vaselinetjie, wat meer as 100,000 boeke verkoop het. Dié roman wen die Jan Rabieprys, die mer-prys vir jeuglektuur en ’n M-Net-prys. Die filmweergawe word as beste rolprent by die Silwerskermfees in 2017 bekroon en wen die titel Best Humanitarian Film by die Sedona International Film Festival in 2018.
Von Meck, wie se mense boere in die suide van Namibië was, het haar loopbaan as joernalis by Die Republikein in Windhoek begin. Sy het by verskeie koerante, insluitende Rapport in Kaapstad gewerk. In 2014 word sy aangewys as Beste Harde Nuus- skrywer vir gemeenskapskoerante. Haar eerste roman, Annerkant die longdrop, verskyn in 1997 en Die Ontwaking: Die lewe van Essie Honiball, ’n biografie oor dié mistieke denker, in 2010.
In 2016 reis Von Meck alleen deur Suid-Afrika en maak sewe maande lank opnames vir Afrikaans.com oor unieke variasies in Afrikaans. Sy durf weer die langpad aan in 2019, hierdie keer om onderhoude met boere in droogte te voer. Net voor die droogte my breek verskyn dieselfde jaar.
Op sestien het Von Meck haar pa oorsee gevolg. Sy het haar skoolrekord met Tipp-Ex vervals en nooit standerd agt voltooi nie. Deur genade alleen word sy later by John F Kennedy University in San Francisco toegelaat, waar sy marinebiologie en vergelykende godsdiens studeer. Later verwerf sy ’n wettige ba-graad in argeologie aan die Universiteit van Kaapstad. Hierna volg ’n hod en ’n meestersgraad in Antieke Oosterse Studies aan die Universiteit van Stellenbosch, asook ’n doktorsgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.
Von Meck woon tans op die platteland en probeer ’n resep vir suiwelvrye kaas te vervolmaak. Sy beskou haarself as ’n interdimensionele ewigheidswese wat oortuig is ’n bonatuurlike lewe behoort die nuwe normaal te wees.
_________________________________________________________________________________________________