Uittreksel: Die drie lewens van Hannlie Human deur Connie Luyt

This entry was posted on 25 July 2022.

Reeds as ’n dogtertjie in Kenia leer Hannli die pyn van verlies ken. Ná die MauMau-aanvalle, moet sy en haar gesin hul plaas verlaat en Suid-Afrika toe verhuis. As student beleef sy ’n erge trauma waarvan net haar ouma Hannie, by wie sy haar sesde sintuig geërf het, weet. Toe kom Buks Vermaak, en ná jare se gesukkel, ’n dogtertjie, Nell. Maar ’n droomhuwelik met Buks was haar nie beskore nie. Toe hy sterf, verkoop sy die huis in Pretoria en gaan woon in hulle strandhuis in Salt Rock. Sal haar ouma se belofte van ’n gelukkige lewe vir haar hier op Salt Rock waar word – of lê haar geluk verder noord in die Afrika-landskap van haar kindertyd?

 


 

“Ouma, van kleins af sien ek soms ’n donkerte aankom, asof daar ’n wolk om iemand is wat nét ek kan sien. Partykeer kom daar ’n prentjie in my kop, sê maar van ’n hospitaalbed, of ’n ongeluk en dan probeer ek om nie weer daaraan te dink nie. Dit het baie gebeur toe ons in Kenia gebly het, maar ek dink ek het dit so bietjie ontgroei.”

Ouma glimlag: “Aanvaar dit as ’n gawe. Ongelukkig kan mens dit nie na willekeur aan- of afskakel nie en is dit ook nie altyd daar nie; soms is daar geen waarskuwing oor iemand of ’n situasie nie.”

“Is daar baie mense wat so is? My ma is beslis nie een van hulle nie en sy wil nie eens daaroor praat nie.”

“Nee, jong, jou ma is nugterdenkend en logies.”

Ons lag ’n bietjie, seker elkeen met ’n ander prentjie in ons kop.

“Jy weet,” sê ouma Hannie ná ’n rukkie, “daar is heelwat mense wat voorgee dat hulle in die toekoms kan sien, en ek is maar ban­gerig vir hulle, maar daar is baie bewyse van heldersiendes deur die eeue. Dink maar aan Nostradamus en ons eie Siener van Rensburg. Napoleon was glo so en Lord Byron en Sigmund Freud ook.”

Sy vou haar hande inmekaar, haar oë iewers ver gerig: “Mense raak ongemaklik wanneer iets buite hulle verwysingsraamwerk ge­beur, iets wat hulle nie kan verklaar nie, want dit laat hulle voel asof die aarde onder hulle onvas geword het omdat hulle dit nie logies kan uitlê nie. In Njoro was daar ’n vrou wie se man dood is voor haar dogter se geboorte en die kind het van kleins af die oorlede pa se geliefde liedjie gefluit, sonder dat die ma dit ooit vir haar geleer het. Trouens, sy self kon nie eens fluit nie. Toe ek vir haar sê haar man is in haar dogter, was sy kwaad vir my.”

Ek verbeel my ek hoor die gefluit in my kop.

“Kan Ouma onthou wanneer jy die eerste maal besef het jy kan dinge sien wat ander mense nie kan nie?”

“Ek kan, ja.” Ingedagte vryf sy met haar linkerhand oor haar reg­­terduim, haar oë op die skilderytjie van papawers op my lessenaar wat ek in kunsklas gemaak het, maar ek weet sy kyk binnetoe.

’n Koue rilling trek deur my lyf.

“My ouma is dood toe ek drie was. In daardie tyd het die boere swaargekry en al meer is gepraat dat hulle na Brits-Oos-Afrika moet trek, maar geld was skaars en die hoop min in ons huis.

“En toe, een nag, word ek wakker en sien Ouma aan die voetenent van my bed staan. Haar stem was só helder: ‘Sê vir Petronella van die ponde wat ek onder die peerboom begrawe het.’ Toe verdwyn sy. Ek het opgespring en op en af in die gang gekyk, maar daar was niks. Toe gaan maak ek my ma wakker.”

“Sjoe, Ouma. Was daar toe regtig geld begrawe daar?”

“In ’n bliktrommel.”

 


 

“In die verte sien ek die huis, ’n murasie sonder vensters en deure, die lewe wat daar wás, uitgekap en weggedra. Van Ma se mooi tuin is niks oor nie. Waar koring gegroei het, is nou shambas met lendelam hutte waar maer vrouens, baba op die rug, loop en nog twee of drie kinders aan hul rokpante klou. Almal staar met lewelose oë na ons motor.

Oor ’n rokerige vuurtjie staan ’n swart pot. Wat kook daarbinne? Posho – mieliepap? Die waas van armoede en ellende word ’n donker mistigheid voor my oë en die reuk van wanhoop draal soos ’n wolk om my.

“Kom ons draai om, Jamie. Ek wil nie verder kyk nie.”

Kinders kom aangehardloop, klop teen die vensters terwyl Jamie die motor omdraai, wys bakhand, met groot smekende oë. Hulle soek geld, of kos, enigiets.

My hart wil breek.

Toe my pa die boer hier was, het niemand honger gely nie, het almal mooi klere gedra, het vrede en vriendelikheid geheers. Selfs tydens die Mau-Mau-jare het Njoro die minste probleme van al die streke gehad. Ek kom nie agter dat trane oor my wange loop nie, ek bly net dink hoe dankbaar ek is dat my pa en ma en ouma Hannie hierdie gesig gespaar is.

Ons praat nie veel nie, maar die kilometers geel koringlande op pad na Narok bring tog ’n mate van vrede terug in my gemoed.

“Jy kan nie al die hartseer van die lewe op jou skouers neem nie, hulle is gans te smal,” laat Jamie my lag. “Kom ons eet sjokolade – dis in die paneelkissie.” En al is dit al effens gesmelt, proe dit soos towerkos wat my uit my teleurstelling lig.

Narok is ’n chaotiese, bedrywige dorp met karre, busse, fietse, donkiekarre, mense en honde wat almal op die pad wedywer. Die winkeltjies langs die pad is opmekaar, elkeen met ’n importante naam. Die Curl-up-and-Dye-haarkapper is ingedruk tussen die Best Beef Butchery en Sympathy Spare Parts.

Mense druk deur klere en komberse wat buite die winkels hang en trap oor plastiekemmers, mandjies en sakke houtskool wat op die sypaadjies uitgepak is. Uiteindelik is ons deur die geroesemoes en op pad na die MasaiMara waar Jamie vir ons in die luukse Mara Serena Safari Lodge vir twee nagte plek bespreek het.

Reeds met die instap slaan die uitsig vanuit die voorportaal my asem weg. “Dit voel asof mens tot aan die einde van die aarde oor die vlaktes kan sien,” verwoord Jamie my gedagtes.

Ons bly in rondawels wat soos Masaihutte lyk en wanneer ons uitstap op ons stoep, kan ek my verbeel ons is terug in my Natalse tuin met crotons, die Calpurnia, of keurboom, se geel trompetblomme. Tot ek afkyk op die plein onder ons sien ek sebras en kameelperde, blouwildebeeste en bokke en selfs ’n ry vlakvarke, stertjies omhoog. Soos ’n bewegende tapyt van golwende groen-goue gras verander die patroon gedurig soos die diere beweeg.

“Ek wens ek kon hierdie oomblik distilleer en in ’n botteltjie bêre.”

 

Uittrek uit Die drie lewens van Hannli Human deur Connie Luyt, nou beskikbaar.

 

U KAN OOK GENIET

Uittreksel: Tenk deur Peter Stoffberg

 


 

Facebook  Twitter