Christelle van Rooyen-Wessels, skrywer van die gewilde Adder, is terug met ’n tweede boek, Brandmerk. Penguin Post het vir haar ’n paar vrae gevra.
PENGUIN POST: Hierdie is jou tweede boek. Hoe het jy die skryfproses hierdie slag ervaar? Het dit baie van die eerste ronde verskil?
Christelle van Rooyen-Wessels: Ja! Met Adder het ek die vryheid gehad om sommer net te skryf. Ek het nie verwag dat ’n uitgewer in my boek belang gaan stel nie. Met Brandmerk het ek baie meer bewustelik geskryf. Ek het ook baie hard probeer om van die foute wat ek met my eerste manuskrip gemaak het, te vermy.
PP: Dit was aan die einde van Adder duidelik dat daar ‘n opvolg gaan moet wees. Het jy na die boek verskyn het, dadelik met dié opvolg begin?
CVRW: Nee, ek het met ‘n ander manuskrip begin wat niks met Adder te doen gehad het nie. Maar die Adder-karakters het ander planne gehad en kort-kort het een, by wyse van spreke, bloot opgedaag en woorde in my kop kom lê. Ek het dit eers geïgnoreer, maar een oggend was ek besig om beddegoed op die wasgoedlyn op te hang. Ek het met ’n paslaken gespook en, meteens was dit asof Adder se uitgesproke Ronnie hier langs my gestaan. “ ’n Verdomde paslaken is deur die blerrie duiwel homself uitgedink,” het ek haar hoor sê. Nét daar het ek die wasgoed gelos, voor die rekenaar gaan sit en dié sin van Ronnie gaan skryf. En ek kon nie ophou nie. Dié stukkie dialoog het ek later in die middel van die boek eers gebruik.
PP: Jy raak aan baie donker onderwerpe – geweld teen vroue en kinders. Lê die kwessie jou na aan die hart of vertel jy bloot agter die storie aan?
CVRW: Geweld teen vroue en kinders behoort almal na aan die hart te lê. Uit die aard van my werk as joernalis kom ek ook té gereeld met gruwels te doene wat selfs erger is as die fiktiewe dade wat ons as skrywers kan uitdink. Dis skrikwekkend om te dink dat 20% van vroue in Suid-Afrika slagoffers van huislike geweld is.
Dit is egter ook ’n onderwerp waarmee ek persoonlik baie vertroud is. As kind, as tiener en as jong meisie moes ek deur situasies gaan waardeur ek sou verkies het om níé te gaan nie. Maar ek het onlangs iets gelees wat my met ander oë laat kyk het na die slegte ervarings wat ek beleef het. Dia aanhaling was: “When I was young, somebody gave me a box full of darkness. Only later I realised that even this was a gift.”
PP: Het jy, as skrywer, empatie met die slegte ou in die storie? Waarom sê jy so?
CVRW: Ja, ek het. Baie van die misdaadfiksie – Afrikaans én Engels – fokus op die speurders wat die misdaad moet oplos. My stories se binnekring gaan oor die slagoffers en die moordenaar. En ek leer hulle intiem ken. Vóór ek kan begin skryf, kry dié mense eers gestalte, lewe. Ek ervaar hul trauma; ek kan voel hoe hul na ontlading of troos smag. Dit maak dat ek baie keer snot en trane voor die rekenaar sit en huil oor al die sleg wat my karakter moes beleef en wat bygedra het tot sy verwrongendheid.
PP: Jy werk as joernalis, hoe beïnvloed dit jou manier van aan ’n storie dink?
CVRW: Ek dink dit help my geweldig baie om my storielyn realisties te hou. Ek werk daagliks met die polisie en met regte misdaad en dit gee my insae wat nie alle skrywers beskore is nie. Ek het ook direk na skool by die polisie in Port Elizabeth begin werk. Vir bykans twee jaar was ek by die Blitspatrollie gestasioneer en ek het ondervinding opgedoen wat nou vir my van onskatbare waarde is. Dit help natuurlik ook dat twee van my broers, asook my swaer tot en met hul aftrede polisiemanne was. My swaer was boonop vir ’n klompie jare ’n moord-en-roof-speurder by Brixton.
PP: Watter boek uit 2020 het jou verras?
CVRW: Ek het net voor die grendelstaat met ’n nuwe manuskrip begin en het gevolglik nie naby ’n boek om te lees gekom nie! Maar die nuwe manuskrip is darem klaar en reeds by Penguin.
_________________________________________________________________________________________________