Drie jaar ná die dood van een van Afrikaans se grootste skrywers kom ’n Nederlandse vrou Suid-Afrika toe om navorsing vir ’n biografie oor sy lewe te doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling om meer oor die enigmatiese figuur vas te stel – bykans dertig jaar nadat die twee mans se weë pynlik geskei het. Sluitstuk is ’n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening wat die roete na stilte en die skeppingsimpuls oopskryf.
Wat hét hy gedink toe hy tot die onderhoud ingestem het? Waar was sy kop? Maar die feit is hy het nie vir ʼn oomblik gehuiwer nie. Hy het dadelik ja gesê. Sekerlik. Graag. Sy wil met hom oor Rudolf praat, het sy in haar e-pos gesê, vir die biografie wat sy oor Rudolf skryf. Afgesien van die ooglopende verdienste van so ʼn projek is hy nou self nie seker of hy presies weet waarom hy ja gesê het nie. Rudolf is dood. Dit is alles lankal verby. Toe hy vyf dae ná Rudolf se dood met die sluitstuk in sy hande staan, het iets uiteindelik in hom bedaar. Toe was dit verby. In daardie oomblik het die pyn en die woede wat Rudolf met sy dood in hom ontketen het, en wat nie eens intense meditasie kon oorkom nie, eenvoudig weggesak, en was sy wete seker – wat tussen hulle gebeur het, was oplaas eenvoudig nie so belangrik soos dit wat hulle vir mekaar gegee het nie. Dít, was hy oortuig, is wat Rudolf met daardie laaste geskenk vir hom probeer sê het, en dít is waarom hy daarmee in sy hande geweet het dit is die afsluiting wat hom so lank ontwyk het. Dit was verby. Hy kon uiteindelik laat los. Omdat dit hóm losgelaat het.
Ja, daardie sekerheid was ongetwyfeld die rede, of liefs, die vernaamste rede waarom hy sonder veel oorweging so te sê onmiddellik die vrou se e-pos beantwoord en ingestem het. Dit is so dat hy met die lees van die eerste reëls van haar boodskap momenteel verras was dat sy geweet het van sy verbintenis met Rudolf; hy het per slot van rekening sedert sy gesprekke met Sensei in die tempel nooit weer oor hom gepraat nie, en dit is meer as twintig jaar gelede. Nietemin, met die verdere lees van haar e-pos is hy gerusgestel toe dit blyk dat Maria du Toit haar na hom verwys het. Die liewe, diskrete Maria. Selfs sy het hom nog nooit oor Rudolf uitgevra nie. En hulle is vriende – het dit ná Rudolf se dood geword, omdat hulle ewe veel daardeur geraak is. Dat Maria die vrou na hom verwys het, was vir hom nog ʼn bevestiging van hoe ’n fyn waarnemer Maria is, hoe akkuraat haar aanvoeling. Geen wonder dat Rudolf verkies het om die einde daar op Maria-hulle se plaas af te wag nie.
Destyds is uiteraard wyd oor Rudolf se dood berig, en is Maria se naam telkens as sy laaste versorger vermeld. Hy het Maria dus oor die e-pos gevra, en sy het sy vermoede bevestig. Dit is deur die nuusberigte dat die vrou eers op Maria en toe op sy spoor gekom het, daar is niks verdags daaraan nie. Dat sy spesiaal uit Nederland na Suid-Afrika sou afreis vir haar navorsing is ook nie vreemd nie, hoewel, nou dat hy daaraan dink, het hy vaagweg gewonder waarom ʼn Nederlander Rudolf se biografie wil skryf. Dat iemand dit wil doen, is nie ʼn verrassing nie; hy is immers Afrikaans se grootste romansier. Iemand sou dit die een of ander tyd waag, ondanks sy lewenslange hiperprivaatheid en sy uitgesproke renons in die opvatting dat sý lewe of sý standpunte van enige openbare belang kon wees. Dit is per slot van rekening wat hom, Markus, meer as dertig jaar gelede so obsessief tot Rudolf aangetrek het, en wat eweneens tot soveel bespiegelinge en beweringe oor Rudolf se privaat lewe onder die fanatiese aanhangers van sy werk gelei het. Natuurlik sou daardie ononderdrukbare sug daarna om te weet wie die man is wat sulke geniale werk skep, op die duur daartoe lei dat iemand wel die biografie aanpak om die vraag te probeer beantwoord. Maar ʼn Nederlander?
Ja, die feit dat die voornemende biograaf ’n Nederlander is, het tog daartoe bygedra dat hy die onderhoud sonder veel omhaal toegestaan het. Dit gaan oor afstand. As buitelander beskik sy per definisie oor die nodige afstand om onbevange na Rudolf en sy lewe in hierdie land te kyk. Sy is iemand wat nie soos die res van ons reeds te betrokke en aandadig is nie. Dit is waarom hy sonder veel oorweging die swart bokslêer na die afspraak saamgebring het. Uiteraard sou hy nie alles vir haar wys nie, maar hy wou dit byderhand hê. Vir ingeval. Dis naïef om bloot op jou geheue staat te maak. Selfs as dit oor Rudolf gaan.
So was alles vir hierdie onderhoud in kanne en kruike, tot seker ’n halfuur gelede. Tot hy pas in sy kantoor weer na die sluitstuk gekyk het. Waarom het hy ...? Het hy gedink dat om weer daarna te kyk hom weer iets van die berusting van daardie oggend sal laat ervaar? Hom as’t ware weer sal instem op daardie wete wat hy met Rudolf gedeel het? Dat hulle saam meer gewen as verloor het? Ja, dit is seker wat dit was; ʼn herinnering wat hom in die gepaste stemming vir die onderhoud sou plaas.
Allesbehalwe. Die oomblik toe hy daarna kyk, was daardie ou vertwyfeling terug. Hoe kon Rudolf hom so uitbuit? Hy wat Markus is, was nog so jonk, so onervare. En wie sê die sluitstuk was nie Rudolf se manier om vir die onvergeeflike te probeer vergoed nie? Daar het immers meer as twintig jaar verloop voor hy Rudolf kort voor sy dood weer gesien het. Wie sê die tyd het Rudolf tot inkeer gebring? As hy destyds presies geweet het hoe om hom, Markus, te speel, sou hy dit tog weer kon doen. Om dinge steeds asimmetries te hou.
En net so, in ʼn ommesientjie, was alles wat met die ontvangs van die sluitstuk vir hom so seker en afgehandel gelyk het, in ’n algehele harwar. Lamgelê deur angs en onsekerheid. Hy het gedink die jare in die tempel het hom hiervan genees, maar toe die klop aan sy kantoordeur kom, kon hy skaars beweeg. Hy het die sekretaresse hoor sê sy besoeker wag vir hom in die klein seminaarkamer. Konsentreer op jou asemhaling. Laat vaar jou gedagtes.
Met die swaar swart bokslêer onder sy linkerarm vasgeknyp het hy sy kantoor gesluit en in die gang na die seminaarkamer geloop.
Uittrek uit Sluitstuk deur Johann Rossouw, nou beskikbaar.
U KAN OOK GENIET
Uittreksel: Decima deur Eben Venter