Moord is op die spyskaart. Speurders Storm van der Merwe en Andreas Moerdyk is terug in Irna van Zyl se riller, Gifbeker.
1
“DIT IS DIE DAG WAAROP die land se bekendste kosblogger dood neerslaan in sjef Zeb Tswalo se deftige restaurant.
Die een oomblik is almal nog gedemp aan die gesels, beleefd besig met hulle elegante porsies en klein slukkies wyn. Die volgende moment sidder die plek soos wat die koskritikus vorentoe du, haar hand oor haar mond gedruk en haar gesig rooi van inspanning terwyl sy stotterend probeer om van haar tafel af weg te kom.
Net ’n paar sekondes lank lyk dit asof sy dit gaan regkry om betyds badkamer toe te storm, maar toe, asof die sluise van haar lyf oopgedraai is, stort en spuit die inhoud van haar maag oor die vloer en oor mense se klere, skoene en handsakke.
Met ’n helse slag beland sy plat in die gemors. Daarná, met die naaste gaste en die sjef om haar versamel, is daar een desperate poging om orent te kom en ’n stuiptrekking voordat sy slap voor al die geskokte gesigte tot stilte hik.
Maar dit weet speuradjudant Storm van der Merwe nog nie, waar sy ’n halfuur vroeër die suiker voor haar in sjef Zeb se Zebardines-restaurant in die Hemel-en-Aarde-vallei bietjie vir bietjie met haar wysvinger oppik en aflek.
Korrels wat sy elke nou en dan afgetrokke met ’n teelepel uit ’n klein wit potjie skep terwyl haar skoolvriendin Kat Vermaak eenstryk deur babbel.
“G’n wonder die Dip het so baie vyande nie. Tipies van haar, het sy die plek weereens uitmekaar getrek, man: geskryf hoe die diens nou ten ene male nie goed genoeg is nie, die kos altyd dieselfde, en sommer ’n word
soos ‘crap’ in haar resensie gebruik. Nee, fô-ok. G’n plek kan so agteruitgaan nie. Ek moes eenvoudig weer self kom kyk.”
Hulle twee sit by ’n vierkantige houttafel met ’n spierwit papiertafeldoek. Hulle stoele ook van hout met rooigekleurde riempiesitplekke.
Die mense langsaan trek Storm se aandag. Dis ’n foodie-paartjie – Kat se woord. Hulle neem die een foto van hulle kos ná die ander en kry skaars kans om ’n hap te eet.
Storm pik weer aan die nuwe suikerhopie voor haar. As die tyd net vinniger wil verbygaan sodat sy by haar baas kan hoor wat die boodskap op haar foon beteken. Dit het haar só op hol, sy kan op niks anders konsentreer nie.
Maar sy kyk vinnig op toe Kat haarself uit die bloute onderbreek en fluister: “Kán jy nou meer? Práát van die duiwel. Sy’s regtig ook orals.”
Agter haar by die ingang staan ’n groot vrou met ’n stem soos ’n opera-sanger waarmee sy oor die hele restaurant projekteer.
“Storm kyk hoe die Dip met ’n onseker gewieg van haar lyf vorentoe stap. Soos ’n reusekolgans.”
“Nee, ek het nie ’n bespreking nie,” hoor hulle. “Ek is seker julle sal vir my plek kan maak. Sjef Zeb het my spesiáál teruggenooi en dis nie my styl om julle te laat weet wanneer nie. Was nog nooit nie, en sal ook nooit wees nie.”
“Wie?” vra Storm.
“Sjt,” fluister Kat met haar vingers voor haar mond asof die vrou hulle sou kon hoor.
“Dis sy.”
Die jong rooikopkelnerin met die lang reguit hare wat die voordeur beman – Tracey, het sy haarself aan die begin teenoor Storm en Kat voorgestel – probeer duidelik haar bes om die saak so goed moontlik te hanteer. Sy stap vinnig met die vrou na die eerste beste tafel naby die ingang.
“Wie?” vra Storm weer.
“Sandra Dippenaar, die gevreesde kosblogger van wie ek jou nou net vertel het. Hulle noem haar die Dip. Sy hou glo daarvan om so in en uit haar kos te dip, soos wat sy alles wat voorkom eet. En natuurlik, soos jy kan sien, is sy nie rietskraal nie.”
Storm kyk hoe die Dip met ’n onseker gewieg van haar lyf vorentoe stap. Soos ’n reusekolgans. Haar skouers kromgetrek asof sy selfbewus is oor haar grootte, haar blonde hare styf in ’n Franse bolla agter haar kop vas. Om haar lyf is ’n blou en lemmetjiegroen serp gedrapeer oor ’n ligblou linnebroekpak met bruin insteekwighakskoene.
Sy sit skaars of die hoofkelner is by: “Nee, nee, nee, ons het ’n heelwat beter sitplek daar in die hoek.” Die Dip is sigbaar ontsteld omdat sy nie vip-behandeling kry nie. Sy word begelei na ’n ander tafel toe, ene met ’n uitsig na weerskante oor die vallei.
Twee ander kelners skarrel vervaard soos wat hulle messegoed, glase en servette herrangskik. Die blogger neem opnuut plaas, dié keer met ’n effense sug, maar ’n tevrede trekkie op haar gesig. Al pratende leun sy vorentoe, asof sy iets vir die maître d’ wil beklemtoon.
Intussen kom die rooikopkelnerin aangedraf met ’n botteltjie water en ’n glas met ’n suurlemoenskyfie in.
Storm verkyk haar aan die uitsig deur die dennebome en in die vallei af na waar die son warm val op rye groen wingerde. Heldere sonneskyn ná die afgelope week se behoorlike reën. Broodnodig, die eerste van die herfs.
Sy probeer skuinsweg onder die tafel na haar groot pers horlosie loer waar Kat nie kan sien nie.
Sy sal wat wil gee om te gaan bel en seker te maak sy verstaan brigadier Lewis Witvoet se boodskap reg. Háár werk is in gevaar oor iets wat haar oudkollega Andreas Moerdyk gedoen het. Is dit moontlik?
Boonop is dit Sondag en eintlik haar en haar honde se tyd.”
Onttrek uit Gifbeker, nou beskikbaar.
____________________________________________________________________________________________________________________________
|
U KAN OOK GENIET