Elena ontdek ’n ou kaart in die solder op hul plaas, ’n kaart wat haar Italiaanse oupa as krygsgevangene na Suid-Afrika gebring het. Dis ’n vonds wat kan lei na ’n goudskat wat die diktator Mussolini in oorlogsbunkers weggesteek is. Wanneer sy die kaart vir haar vriend in Stellenbosch, historikus Ernst, wys, bars alle hel los.
1
STELLENBOSCH
Saterdag 22:05
“Elena leun oor die lessenaar en staar na die kaart. Alles op die blad is weggeskuif. Net die ou, vergeelde handgetekende kaart lê daar, reg in die ligkring van die lamp.
Sy hoor Ernst sy asem diep intrek. Nog nooit het sy hom so opgewonde gesien nie.
“Dis hy! Dis die kaart wat ons soek!” sê hy. “En dis sy handskrif!”
“Mussolini? Sy handtekening ook?”
Hy hou sy vergrootglas oor die geskribbel onderaan die kaart en knik. “Ja, identies. Kyk hier na Ambrosini se fotostaat.” Hy haal ’n tweede bladsy uit en sit dit teenaan haar kaart. “Presies dieselfde. Groot b vir Benito aan die begin en ’n duidelike m in die middel.”
Sy gaan sit op die lessenaarblad en kyk met ’n breë glimlag na Ernst. “Fantasties, ons het dit! En al die tyd was dit op Oupa se plaas, in sy ou oorlogstrommel.”
Weke lank al word daar in die media bespiegel of die ou Italiaanse diktator se brief wat uit die Vatikaan opgediep is, eg is. ’n Brief wat praat van ’n kaart wat na Mussolini se versteekte skat van oorlogsgoud kan lei. Sou so iets ooit bestaan?
En al die tyd lê dit vergete in die solder op die plaas. Dit was ’n ope geheim vir hul familie, maar betekenisloos, want wat sou die gekrabbel op ’n vergeelde ou kaart tog kon beteken? Dit was een van die waardelose memento’s wat hy as Italiaanse krygsgevangene na Suid-Afrika gebring het; Giuseppe, haar dierbare korrelkop-oupa, die enigste regte pa wat sy ooit gehad het.
En wanneer sy hom uitgevra het: Los dit, Elena. Dit het al te veel hartseer veroorsaak. Belowe jy sal nie die spoor vat nie. Tot op sy sterfbed het hy bly waarsku.
“Wie weet hiervan?” eis sy nou.
“Net my kollega Fabio Ambrosini in Rome. En dan natuurlik George. Jy sal hom nou-nou ontmoet. Hy het beloof hy kom ná tien vanaand.”
“En ons kan dié George vertrou?”
“Ons het saam grootgeword, Elena. Hy’s soos ’n broer. As daar een is wat ek met my lewe vertrou …”
“Nogtans,” onderbreek sy hom skielik driftig, “ek dink nie ek sal die kaart net so kan laat gaan nie.”
“George was in die polisie, mens. Hy sal dit veilig hou. Verstaan tog, ons moet die dokument in Rome kry. Ambrosini moet dit self sien. Eers dan sal ons bo alle twyfel weet of dit eg is. Hy moet dit fisiek met die oorspronklike brief van die Vatikaan vergelyk.”
Sy kom orent. “Ons vonds is nou nog geheim, maar anderkant in Rome?” Sy skud haar kop beslis. “Ek weet nie, Ernst. Onthou hoe die nuus van die brief soos ’n veldbrand versprei het.”
Hy knik en kyk op sy horlosie. “Jy moet leer vertrou. George is nou-nou hier, dan kan jy al jou vrae vra. Sy vlug Rome toe is eers môreaand. Daar is nog tyd.”
“Die bank wil nie meer uitstel gee nie en daar is niks meer op die plaas om te verkoop nie.”
Elena kyk weer krities na die vergeelde stuk papier. Kan Oupa se ou kaart die oplossing wees vir hul helse plaasskuld? Haar ma was die naweek moedeloos toe sy bel. Die bank wil nie meer uitstel gee nie en daar is niks meer op die plaas om te verkoop nie.
Dan hoor sy dit. Die geluid van die stram deurhandvatsel.
“Is dit George?” vra sy.
“Moet wees.” Ernst frons en kyk na die deur. “Tog, hy het gesê hy bel voor hy boontoe kom.”
“Iemand kon vir hom oopgesluit het onder?”
Self hoor sy nou niks behalwe die geswiep van vlaag op vlaag reën teen die ruite nie. Tipiese Kaapse kouefront. Was dit ’n tak teen ’n venster, ’n deur wat êrens in die gang ratel in sy kosyn? Toe sy netnou na Ernst se kantoor gekom het, was daar nie ’n siel in die gebou nie. Hy moes vir haar kom oopsluit.
Dan weer die geluid. Iets soos ’n gevroetel aan die deurslot.
“Ek hou nie hiervan nie,” sê Ernst nou sagter. “George sal klop. Dis nie hy nie.”
Voordat sy kan reageer, vou hy die kaart haastig toe en skuif dit terug in die ou leersak.
“Ons moet dit wegsteek,” fluister hy dringend. Hy beweeg vinnig na die badkamertjie toe.
“Nee. In die stoorkamer, Ernst. Gou!” Maar dis te laat en sy vlug alleen die stoorkamer binne.
Daar is ’n harde stampgeluid teen die kantoordeur asof iemand die deur probeer oopskouer. Sy druk haar rug plat teen die muur en loer deur die skreef van die halftoe stoorkamerdeur. Die kantoordeur skiet meteens oop en slaan met ’n slag teen die oorkantse muur.
Dit voel of ’n gewig swaar op haar bors kom lê, haar asemhaling is skielik moeisaam.
’n Groot figuur vul die deuropening. In die persoon se hand ’n weerkaatsing van lig op metaal. Die onmiskenbare metaalgrys loop van ’n pistool.
Sy moes na Oupa geluister het en die kaart op die solder gelos het. Maar nou is dit te laat.
Elena skuif weg van die stoorkamerdeur af en soek wegkruipplek dieper die vertrekkie in. Nêrens! ’n Klomp oorlaaide rakke, maar niks groots, geen kas om agter te skuil nie.
Daar is sagte voetstappe. Angs trek haar keel toe. Sou Ernst hom uit die badkamer sien?
Alles gebeur blitsvinnig. Sy hoor iemand hardloop, skoene klappend, skuiwend oor die houtvloer. Dan ’n dowwe slag, ’n stem wat uitroep en die geluid van iemand wat val. En toe twee skote. Oorverdowend hard in die beperkte ruimte van die kantoor.
Dan doodse stilte, asof ’n vakuum alle geluide uit die vertrek gesuig het.
Elena krimp ineen agter die halfoop deur, te bang om te beweeg. Miskien weet die persoon nie van haar nie. Die skote weergalm steeds in haar kop.
Dan hoor sy wat sy vrees: ’n voetstap, nog een, duidelik op pad stoorkamer toe, na haar toe. Dit kan nie gebeur nie. Nie nou nie. Nie met haar nie.
Sy hou op asemhaal, maak haar oë toe en krimp ineen agter die deur. Miskien draai hy om as hy inloer en sien hy haar nie dadelik nie.
Dan kraak die deur en sien sy die pistool in die deuropening.
Elena vries en voel hoe die lewe uit haar vloei. As hy nog een tree gee, sal hy haar sien.”
Onttrek uit Die geheim van Mussolini se kaart deur Constant van der Merwe, nou beskikbaar.
U KAN OOK GENIET
Uittreksel: Op ‘n mooi dag deur Irna Van Zyl