Uittreksel: Decima deur Eben Venter

This entry was posted on 19 May 2023.

Eben Venter se boek kombineer outofiksie, fabel, ’n speurverhaal en die wetenskap, en is ’n dringende pleidooi vir die bewaring van een van die wêreld se megaherbivore.  Decima  is ’n elegiese werk vir baie stemme waarin die skrywer die aard van verlies in sy vele gestaltes besing en besweer.

 


 

Vandag moet ek die sangoma gaan spreek. Die lug is yl met vlokke bleikgoud – vroeglente in die Oos-Kaap. ’n Polohemp met helder, dik strepe en swart jeans voel reg. Gedurende die skraal oggenduur hierdie brokke in my droom: ’n “teken hier”-vorm wat aanhoudend vervaag, ’n hand winterwit en leweloos, en die kleur blou. Niks hiervan beteken iets totdat ek by die sangoma gaan sit nie.

My vraag aan die sangoma is eenvoudig: Kan ’n mens die Groot Visrivier-park binnegaan, renosterhoring oes en weer veilig uitkom? Nie dat ek ooit so iets sal of wil aandurf nie, maar ek moet weet hoe om die storie te vertel. Voor die skeerspieëltjie, ’n spikkel op my hemp, miskien ’n vlieg s’n. Met ingeseepte waslap probeer ek dit afvee.

Ook my plan is eenvoudig. Ek ry van hier af, van my ma se aftreeoord tot by die BP-garage op Stamfordweg, digby die N2. Daar sal ’n man by name Thulani Lani Klaas op my wag. Ons sal dan óf in my kar, eintlik my ma s’n, maar sy bestuur nie meer nie, óf in sy kar verder ry. Ek hoop maar dis syne. Van daar af vat Thulani my na die sangoma se huis in Motherwell, een van die grootste en oudste townships in Suid-Afrika. Ek was nog nooit in Motherwell nie en ek ken Thulani glad nie, maar hy ken die sangoma. Thulani Klaas is my kontakpersoon. Die ekskursie is netjies beplan; daar’s geen rede om angstig te raak nie.

My ma wag op my by die eetkamertafel. Sy het gedek met ’n outydse, gehekelde tafeldoek en ’n Noritake-bord. Daar is twee goudbruin beskuite op die bord, en bitterige Nescafé in een van haar blommetjieskoppies – in dié deel van die storie is ek in Paradys-aftreeoord. Nou glip my ma se hand om die bekertjie warm melk en vou myne toe vir die ontbytgebed. Dan sê sy: Jy kan my kar vat. Ek bedank haar, ook vir die gebed wat ek beskou as ’n seëning omdat ek nie meer bevoeg is om vir myself te bid nie.

Ek maak als bymekaar vir die konsultasie, my Leica-kamera, gelaaide iPhone, notaboek, potlood en water, toe my ma my vasgryp met haar benerige, skone hand: My kind, sê sy, ek wil nie hê jy moet doodgaan voor my nie, dis al wat ek vra.

Nou is ek op die stuk pad waar die kranse begroei is met ’n boskasie van Oos-Kaapse flora, ’n wildheid wat my heeltemal aflei van altyd-tog-so-besig-wees met al my dinge – diepgroene, byna dreigend, die laaste van die aalwynkerse, wolkblou, tuimelende plumbago en oral turskvye, tolofiya vir die plaasmense. En dan die boommanne met plomp vingers hemelwaarts, uit die euphorbia-familie, of sommer net noors, en ’n titsel skreeuoranje van tecomaria capensis.

My ma se woorde keer vir ’n oomblik terug – ek jaag teen 130 km/h. Natuurlik is sy bang. Sy weet skaars waar Motherwell is en ek gaan trouens in die minderheid wees, miskien die enigste wit mens op ’n Saterdagoggend in die ganse township. En wat die sangoma betref: Sy is ’n dinges, ’n toordokter, ’n mens wat bonatuurlike dinge met haar seun kan en wil aanvang.

Ek trek af by Stamfordweg-BP en kry parkeerplek. Hierdie diensstasies werk soos ’n dorpsplein: In die koue son vleg ’n meisie se ma-tannie haar hare langs Cars & Suds waar twee ander vroue in pienk overalls en twee seuns, beide met Guinness-musse, ’n kar handwas; taxi’s en busse trek in, maak vol, bande word geskop-toets, dan opgepomp.

Ek klim uit en sorg dat ek gesien kan word. Thulani moet my raaksien, ek weet nie hoe hy lyk nie. Dis so ’n plek dié – by die kafee is pap en boerewors met chakalaka vandag se special.

Tyd stap aan. Thulani is nêrens te siene nie.

Daar hoor ek nou my naam. Thulani spreek dit reg uit. Oukei, ons gaan in sy kar, een van daardie nuwe, luukse Mercedes-Benz-modelle.

 


“Rowwe, aanmekaargetimmerde bousels van optelsinkplaat en houtpalette. Dis waar my stroper vandaan gaan kom, van daardie jaart met sy beteuterde lemoenboom.”


 

Hy praat van Motherwell, sink die e, tong teen die ondertande. Hier het hy geloop, hier’t hy gespeel, hy gaan my alles wys. Thulani. Cool laphoed met ’n Burberry-ontwerp. Toe hy handskud, stoot hy sy donkerbril op die rand van sy hoed.

Nou is ons op die R335, dis ook die pad wat na die Groot Visrivier-park lei. Op regterhand helderwit en blou hout-en-sinkhuise, links lê die eintlike Motherwell.

Ek sê jou nou, want ek weet wat soek jy, hier begin die NU 29’s, en dis waar jy die manne kry wat bedags uitgaan en gaan jag. Bushmeat. Wildsvleis. Dis hulle s’n, hy maak seker ek hoor dit.

NU?

Neighbourhood Units. Die hele Motherwell is verdeel in hierdie units. Hy skuif reg in sy ligbruin broek tot hy tevrede is met sy sit op die te harde sitplek.

Sommige sinkhuise in NU 29 is nuut, ek kan sommer sien. Rowwe, aanmekaargetimmerde bousels van optelsinkplaat en houtpalette. Dis waar my stroper vandaan gaan kom, van daardie jaart met sy beteuterde lemoenboom. Die tweede stroper is ’n jong Afrikaanse man, die ene planne, maar benoud oor watter kant toe.

Jy luister nie wat ek sê nie, sê Thulani. Ons swaai regs af na Motherwell en nou’s hy ’n topklas-gids. Oukei, hier kry jy die hostel vir enkelmans; jy kan sê dis die oudste gebou in Motherwell, ook een van die eerstes met die rooi bakstene. Maar dan wyk hy af van sy uitleg oor Motherwell: Jy sien, sê Thulani, ek is Fort Hare-Universiteit toe vir Engels en Geskiedenis. En sommer net daar begin die 1976-opstand oor julle taal. Jy kan maar sê ek is vrywillig gedwing om lid te word van COSAS. Toe ek weer sien, gryp hulle my, net hier anderkant, ek gaan jou nou daardie presiese straathoek wys, die SAP’s met hulle harige arms wat uitsteek by die bakkie se vensters, ons het altyd geweet dis die Boere daardie. Hulle spread-eagle my en ek bid kliphard, maar nee, hulle kry vyf bladsye, fotokopieë uit Steve Biko se boek. Ken jy hom? I write what I like.

Ek ken sy werk. Die boek was toe verban, sê ek. Ek het ’n kopie in Amsterdam gekoop en dit laat toewerk in die voering van my jas voor ek teruggevlieg het na Suid-Afrika, ’n woljas wat my pa nog vir my geleen het vir die koue daar oorkant.

Jy het daardie boek ingebring?

Ek het.

Daar is seker wit mense soos jy ook.

Ek hou van die stuk waar Biko met die regter praat oor velkleur. En dan vra die regter: Maar is jy nie meer bruin as swart nie? En dan antwoord Biko hom: En julle, is julle nie meer pienk as wit nie?

Thulani glimlag. Niemand wil mos pienk wees nie, behalwe as jy ’n vark is.

Maar jy kry darem wit en swart varke ook, en swart-en-wittes. Hier bars ons albei uit van die lag.

Hulle is maar net varke, almal van dieselfde varkvlees, sê ek.

Die manier waarop Thulani na my kyk, daardie blik wat sy oë plattrek en kreukel, laat my vir die eerste keer sedert ons in sy kar geklim het tot die besef kom van ’n gedeelde menslikheid.

Nou ja, nou kan jy ook sê jy ken daardie boek. Dis die regte boek vir wit mense. Nou nog. Toe grawe hy ’n blikkie Zambuk uit, die lastigste blikkie op aarde om oop te maak. Met sy pinkie smeer hy ’n draaisel eukaliptussalf aan sy lippe.

 


“Ons word buitentoe vergesel oor die plakkie grasperk tot by die rondawel, die paal met horings in volle sig. Hoekom eers die omweg deur igqirha Nolala se sitkamer?”


 

Hy sê: Swart mense sal net idees kry as hulle daardie boek lees, so het die wit regering gedink. En hulle was reg. Fotokopieë van die bladsye uit daardie boek is versprei onder COSAS-lede, ons het gedink dis veiliger so as om met die hele boek rond te loop. Dit was kosbaar om te lees. Hulle gooi my 24 uur in die tronk, dis hel daardie, ek sê jou nou, dis nie vir ’n mens nie. Maar hier is ek nou.

Hy kyk wat ek besig is om af te neem: Ek sien daar is baie blou hemel in jou prente.

Nee, moenie worry nie, ek dek alles.

Hy lag. Hy ken hierdie Motherwell van hom. Hier is die Masakh’iSizwe Resource Centre, met ’n fisioterapeut, regsdienste en al daardie klas goed. Die mure is pienk met swart sierletters. Nog ’n foto.

Ek reken Thulani hou van my. Hy is natuurlik voortreflik as gids en maak seker hy wys wat juis ék wil sien. Op my beurt neem ek alles in soos hy wil hê ek moet; altans, so dink ek.

Byna daar. Die kar ry stadiger, draai links en weer links. Gebruik glad nie sy GPS nie. NU 6B, sê hy. Hier is die huise ’n skaflike gesinsgrootte met teëldakke en jaartse ommuur op menshoogte, meestal in appelkoos, met sulke gedraaide borssuiker-pilare, een aan elke kant van die garage, ’n boustyl waarmee ek vertroud is. Ek merk ook die regop paal in sommige jaartse wat net bokant die muur uitsteek. Bo-op die paal is daar bokhorings gemonteer, en tussen die horings groei stekelrige lugplante.

Op daardie oomblik trek ek diep asem in, onwillekeurig, in afwagting van die konsultasie met die sangoma, en hoop dat sy my gaan verdra en verstaan, en dat ek sal weet wat en hoe om te vra ten einde die inligting te bekom waarna ek soek, selfs al weet ek nie presies wat dit is nie. Wat ek wel weet, is dat die ekskursie weke vooruit beplan is, tot en met die kontantbetaling vir die konsultasie en die brandstof vir Thulani Klaas se kar.

Ek druk die vensterknoppie om te spoeg, maar is bang dit slaat teen Thulani se nuwe kar vas en sluk maar in – wat ook al, dis niks ernstigs nie.

Weet jy, sê Thulani, dis nie korrek om die woord sangoma te gebruik vir hierdie vrou nie. In isiXhosa verkies ons die woord igqirha – sy het die goddelike gawe ontvang, maar sy het haar ook halfpad tot die Christendom bekeer. Jy kan maar sê sy wou nie net tradisionele igqirha wees nie, nie die soort mense wat in Xhosaland gebly het lank voor die Christelike kerk nie; aan die ander kant wou sy ook nie haar roeping prysgee nie. So nou sal jy sien haar instruksies en leiding is gebaseer op dié van die voorvaders, maar sy maak ook gebruik van die Bybel.

Dankie, Thulani. Ek is bly sy het ingestem tot die konsultasie.

Mogogoshestraat, die straat van sangoma Nolala, of liewer igqirha Nolala -– dis moeilik om uit te spreek. Ook haar huis het die gedraaide pilare met ’n Korintiese kroon, die garagedeur is wawyd oop. Net toe ons parkeer, kom sy uitgeloop in indigo shweshwe, rooi bespikkeld. Babablou handdoek om haar heupe, links vasgesteek, ’n verdere handdoek dwars oor haar skouer en ’n doek van dieselfde shweshwe, bo afgeënd met ’n dik, gevlegte band wat haar langer laat voorkom. ’n Dubbelkoord van karmosyn en bottelgroen glaskrale is om haar nek gedraai en hang tussen haar borste tot op haar midderif.

Sy steek haar hand uit om my te groet, ’n breë silwerring aan ’n vinger, spreek my naam melodieus uit en praat dan verder met Thulani op isiXhosa. Ek besef toe dat nie alles wat gesê gaan word vir my toeganklik gaan wees nie.

Ons stap haar jaart binne – daar is die paal met die bokhorings, ek tel drie pare – dan na haar huis tot in die sitkamer met ’n reuse- platskermtelevisie, drie kinders en ’n vrou wat na hulle ma lyk, lekkersit daar op die pofsag, sjokolade sofa.

Al vier kyk om na die besoekers en weer na die skerm. Ons word buitentoe vergesel oor die plakkie grasperk tot by die rondawel, die paal met horings in volle sig. Hoekom eers die omweg deur igqirha Nolala se sitkamer? Sonder dat ek aangesê word – dis Thulani se manier – besef ek ons moet skoene uittrek. Igqirha Nolala stap eerste binne, gaan sit en vou haar bene onder haar in, voete gepunt na links, terwyl ek en Thulani oorkant haar op grasmatte plaasneem.

Ek gooi nie beentjies nie, kondig sy sonder meer aan.

 

Uittrek uit Decima deur Eben Venter, nou beskikbaar.

 


 
 
 
 
 

 

U KAN OOK GENIET

Uittreksel: Die drie lewens van Hannlie Human deur Connie Luyt

 


 

Facebook  Twitter