Heerlike kos propvol heilsaamheid is Carmen Niehaus se nuutste kookbook nadat sy reeds meer as twintig kookboeke uitgegee het. Dit is ’n lekker-eet-boek met ou bekendes en nuwelinge wat gesonder gemaak is om steeds heerlik te kan eet sonder om skuldig te voel – net soos Carmen aan huis eet.
Sjaksjoeka
“Saggebakte eier op ’n geurige tamatiesmoor sorg vir ’n heerlike ontbyt. Dié eiergereg uit Noord-Afrika is deurtrek met die lekkerste geure; tog is dit verspot maklik om te maak en ’n heerlike alternatief vir ’n ontbyt van spek en eiers.”
Genoeg vir 4
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 30 min
SJAKSJOEKA
45 ml (3 e) olyfolie
1 groot ui, gehalveer en in dun skyfies gesny
1 groot rooi of geel soetrissie, ontpit en in dun repies gesny
3 knoffelhuisies, in dun repies gesny
5 ml (1 t) elk komyn en paprika
1,25–2,5 ml (¼–½ t) harissa (sien wenk)
Knippie rooipeper
1 blik (400 g) blik pruimtamaties, grofgekap
4 ml (¾ t) elk growwe sout en swartpeper
250 ml (1 k) gekrummelde fetakaas
6 groot eiers
VOORSIT
Vars basilieblare en ’n tamatietakkie
Ekstra fetakaas
1 oondverhitte pitabrood per persoon
Verhit die oond tot 180 °C.
SJAKSJOEKA Verhit die olyfolie in ’n groot, oondvaste pan.
Voeg die ui en soetrissie by en roerbraai tot baie sag, sowat 10 minute.
Voeg die knoffel, komyn, paprika, harissa en rooipeper by. Verhit sowat 2 minute tot die geure goed gemeng het.
Voeg die pruimtamaties by en geur met die helfte van die sout en peper. Verhit tot die tamatiemengsel verdik.
Strooi die feta oor en meng dit in.
Maak klein holtes hier en daar in die smoor en breek die eiers baie versigtig daarin. Sit die deksel op en laat sowat 5 minute prut.
Plaas sonder die deksel in die oond tot die eiers net gestol het, sowat 10 minute.
VOORSIT Sprinkel die vars basilieblare, tamatietakkie, ekstra fetakaas, sout en peper oor en sit voor saam met die pitabrood.
Wenk: Harissa is ’n sterk soetrissie-en-brandrissiesous. Jy kan dit ook vervang met sambal oelek, ras el hanout of andersins sriracha-sous.
Groente-Saadbrood
“Toe ek die eerste keer hierdie brood probeer, was ek bra skepties. Ek het nie gedink ’n klomp gerasperde murgpampoentjies sou ooit as ’n brood kon uitdraai nie. Groot was my verbasing – dis heerlik klam en bevat min koolhidrate, want daar is nie enige koring in nie, maar tog lekker baie sade. Die eier en kaas help om die mengsel te bind.”
Maak 1 brood
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 30–40 min
4 eiers
60 ml (¼ k) olie
625 ml (2½ k) gerasperde murgpampoentjies
180 ml (¾ k) gerasperde mozzarella-kaas
125 ml (½ k) elk pampoenpitte en geroosterde sonneblomsaad
45 ml (3 t) vlassaad
7 ml (1½ t) bakpoeier
Knippie sout
AFRONDING
Pampoenpitte vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n broodpannetjie goed, voer die bodem uit met bakpapier en spuit weer.
Klits die eiers en voeg die olie, murgpampoentjies, mozzarella-kaas, pitte, sade, bakpoeier en sout by.
Skep in die voorbereide pan en sprinkel pampoenpitte oor. Bak sowat 30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Koel effe af in die pan tot stewig genoeg om uit te keer.
Sit voor met botter of avokado of roomkaas, hoemoes of bonesmeer (sien resep hier onder).
BONESMEER: Dreineer 1 blik elk (400 g) cannellini-bone, botterbone en kekerertjies. Plaas dit in ’n groot kastrol en voeg 250 ml (1 k) water by. Laat 10 minute stadig kook. Druk intussen 2 knoffelhuisies saam met 10 ml (2 t) sout met ’n stamper in ’n vysel fyn en voeg by die bone. Voeg ook die sap van 2 suurlemoene by. Kook tot die meeste van die vloeistof verdamp het en druk fyner met ’n aartappeldrukker – dit moet steeds ’n growwe tekstuur hê. Voeg 10 g elk fyngekapte pietersielie en ment by. Skep in ’n bak en maak lekker warm in die mikrogolfoond. Giet ’n bietjie olyfolie oor en sit voor saam met die brood.
Gebakte Blomkool
met Blomkoolpuree en Kruie-Vinaigrette
“Die veelsydigheid van blomkool ken nie perke nie. Sit ’n gebakte blomkool heel voor of breek dit in blommetjies en maak ’n slaaibakkie daarvan. Lekker geurig en mooi.”
Genoeg vir 6
Bereiding: 40 min
Baktyd: 40 min
MARINADE
180 ml (3/4 k) sojasous
80 ml (1/3 k) olyfolie
30 ml (2 e) fyngerasperde suurlemoenskil
5 ml (1 t) suurlemoensap
5 ml (1 t) elk fyn komyn, koljander en paprika
1,25 ml (¼ t) elk rooipeper en gerookte paprika
BLOMKOOL
1 groot of 2 klein blomkole
Olyfolie
PUREE
400 g afvalstukkies blomkool
125 ml (½ k) elk volroommelk en room
Sout en peper na smaak
VINAIGRETTE
60 ml (¼ k) kruie soos pietersielie en basilie, grof gekap
4 knoffelhuisies, gerasper
60 ml (¼ k) olyfolie
45 ml (3 e) appelasyn of druiwe-asyn
10 ml (2 t) growwe mosterd
Suiker na smaak
Sout en peper na smaak
Boontjiespruite (opsioneel)
Voorsit
Koljander- en basilieblare
MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade.
BLOMKOOL Pak die blomkool in ’n bak en giet die marinade oor. Laat staan 2 uur of oornag.
PUREE Plaas die blomkoolstukke in ’n kastrol en giet die melk en room oor. Geur met sout en peper. Kook tot lekker sag. Maak dit met ’n stokmenger fyn.
Verhit die oond tot 200 °C. Plaas die blomkool op ’n bakplaat en giet olyfolie oor.
Oondbraai tot die blomkool verbruin het, maar net-net sag is, sowat 40 minute.
VINAIGRETTE Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en verwerk tot glad.
VOORSIT Skep die blomkoolpuree op ’n bord. Plaas die blomkool bo-op en giet van die slaaisous oor. Sprinkel koljander- en basilieblare oor.
Variasie: slaaiblakkie Marineer ook ’n blik gedreineerde kekerertjies in die marinade en bak saam met die blomkool tot bros. Voorsit van die bakkie: Smeer van die puree onderin die bakkie. Skep aparte hopies blomkool en kekerertjies bo-op, sprinkel bietjie gekapte rooi-ui indien verkies bo-oor en giet van die slaaisous oor. Rond af met roketblare.
Franse Oondhoender
“Vir hierdie resep gebruik ek deesdae swart knoffel, wat verouder is, en pleks van slegs pruimedante gebruik ek ’n verskeidenheid droëvrugte soos sultanas en Turkse appelkose saam met die pruimedante. Die kombinasie met die groen olywe is onverbeterlik.”
Genoeg vir 6–8
Bereiding: 20 min
Marineertyd: 1–2 uur
Gaarmaak: 1 ½ uur
MARINADE
2 bolle knoffel of andersins swart knoffel, met skil
60 ml (¼ k) olyfolie
60 ml (¼ k) houtverouderde balsemieke asyn
80 ml (1/3 k) basilieblare of origanum
HOENDER
12 hoenderporsies (dytjies en boudjies, nie borsies nie), helfte se velle verwyder
Sout en peper
250 ml (1 k) wit wyn (sien wenk)
125 ml (1/2 k) kappertjiesaad (verkieslik met lang stele)
30 groen olywe
125 ml (1/2 k) veelkleur-sultanas
100 g Turkse appelkose, gekap
12 pruimedante
40 g vars koljander
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondbak.
MARINADE Mikrogolf die knoffelbolle, skil en al, vir 3–5 minute of tot hulle sag is (die swart knoffel kan jy net so gebruik), druk die puree uit en meng met die res van die bestanddele vir die marinade.
HOENDER Pak die hoender in ’n nie-metaal-oondbak, giet die marinade oor die hoender en marineer vir ’n uur of twee. Geur met sout en peper, giet die wit wyn oor en voeg die kappertjiesaad, olywe en droëvrugte by, asook die helfte van die koljanderblare.
Bedek en bak 1¼ uur tot die hoender sag, gaar en goudbruin is. Sprinkel die orige koljanderblare oor en sit voor met stampkoring of koeskoes en slaai.
WENK
Soms vervang ek die helfte van die witwyn met Earl Grey groen rooibostee om daardie ekstra – en kruiegeure by te kry en natuurlik die ekstra goedheid wat daarmee saamgaan.
Mediterreense Rafelbeesvleis
“’n Heerlike Mediterreense skottel van beesvleis smulsag gestowe in ’n geurige tamatiesous. Ideaal vir voorsit aan baie mense.”
Genoeg vir 6–8
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1½ –2 uur
RAFELVLEIS
45 ml (3 e) olie
Sowat 1 kg stowebeesvleis-blokkies met min vet (jy kan varkstowevleis ook gebruik)
Sout en peper
1 pak (200 g) maer bladspek-vleis, in stukkies gesny (opsioneel)
TAMATIESOUS
6 knoffelhuisies, fyngekap
3 uie, fyngekap
4 wortels, geskil en gerasper (opsioneel)
4 selderystingels, gekap (opsioneel)
250 ml (1 k) rooiwyn
45 ml (3 e) appelasyn
2 blikke (400 g elk) tamatie met ui (met geen preserveermiddels)
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
Paar songedroogde tamaties in vinaigrette
Knippie suiker
Sout en peper
Handvol gekapte basilieblare (opsioneel)
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Paar swart olywe
VOORSIT
500 g 100%-durum-bucatini spaghetti, gaargekook
Mozzarella- of parmesaankaas
Basilieblare vir afronding
Verhit die olie in ’n groot kastrol of selfs drukpot.
Geur die vleisstukkies met sout en peper en braai saam met die spekvleis indien gebruik tot bruin en gaar. Skep uit en braai die groente vir die sous in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die vleis weer by.
Voeg die rooiwyn en appelasyn by en bring tot kookpunt. Voeg dan die blikke tamaties, tamatiepasta en songedroogde tamaties by.
Verlaag die hitte en prut tot die vleis van die bene afval, sowat 1–1½ uur; voeg water by indien nodig.
Skep die vleis uit, verwyder die bene en trek die vleis in rafels. Skep terug in die pot. Geur met suiker en sout en peper soos nodig. Voeg die basilieblare indien gebruik, suurlemoenskil en olywe by en prut tot ’n dikkerige, geurige sous.
Kook intussen die bucatini tot net sag en dreineer.
VOORSIT Skep die bucatini op ’n dienbord en skep die sous bo-op; meng effe indien verkies. Rasper die kaas oor en rond af met basiliekruid.
LANGBEEN-LAMSKENKELS is net so lekker as dit gaargemaak word in hierdie geurige tamatiesous. Braai die lamskenkels of hoenderporsies tot effe bruin en skep uit. Giet die sous in die pot en voeg die vleis weer by. Prut sowat 2 uur of tot die vleis sag is en bykans van die bene afval. Sit polenta, waarby gaar sampioene en bietjie kaas ingeroer is, daarmee voor.
WENK
Maak pastei met die rafelvleis, lamskenkels of hoenderporsies: Skep in bakkies en plaas 2–3 blokkies fillodeeg oor. Bak tot bruin bo-op. (Sien metode by Marokkaanse pastei.)
Grondboontjiebotter-Sjokoladekoekies
“Hierdie heerlike koekies kry geen meel in nie en word werklik in ’n kits gemaak. Veral die kleingoed smul heerlik hieraan.”
Maak sowat 18 koekies
Bereiding: 10 min
Baktyd: 15 min
KOEKIES
250 g suiker- en soutlose gladde grondboontjiebotter
20 g kakao
1 eier, geklits
40 g elk bruinsuiker en versoeter
5 ml (1 t) koeksoda
Versiersuiker om in te rol
Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit 2 bakplate goed met kossproei.
KOEKIES Meng al die bestanddele goed saam tot ’n sagte deeg.
Skep met ’n 15 ml-maatlepel (1 eetlepel) deeg uit en rol elkeen in ’n balletjie. Rol in versiersuiker.
Plaas op die bakplate en druk elkeen effe plat met ’n vurk.
Bak hoog in die oond vir 15 minute tot gaar (as dit te laag in die oond gebak word, kan die onderkant brand).
Laat afkoel op die bakplate en hou in ’n lugdigte houer.
WENK
Rol die deeg in ’n rol en vries. Ontdooi en sny skyfies af en bak.
Resepte uit Lekker en Goed deur Carmen Niehaus, nou beskikbaar.