‘However fast he sprints, however advanced the blades that help to propel him around the track, he will never outrun the tragedy of killing someone he loved.’ – Oliver Holt, Britse sportjoernalis
Hy was die superster, die ikoniese Paralimpiese atleet wat so selfversekerd was oo r sy vermoëns dat hy selfs bereid was om die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) in 2008 na die Sportarbitrasiehof te neem vir die kans om teen nie-gestremde atlete sy staal te wys. Na ses goue, een silwer- en een brons- Paralimpiese medaljes, en ’n persoonlike beste tyd van 45,07 sekondes in die 400 meter, was hy die goue seun van wêreldatletiek, ’n inspirasie vir miljoene. ‘The fastest man on no legs,’ die outjie van Pretoria wat persoonlike tragedie in triomf omskep het, en vir wie ’n maatskappy soos Nike bereid was om borgskappe van miljoene rande te gee.
Die tatoeëermerk op sy rug sê iets van sy benadering tot atletiek en die lewe. Dit begin met ’n aanhaling uit 1 Korinthiërs 9 vers 26: ‘I do not run like a man running aimlessly; I do not fight like a man beating the air. I execute each strike with intent. I beat my body and make it my slave …’
Van die begin af was dit duidelik dat hy nie jammer vir homself voel nie. ’n Paar maande nadat hy die eerste keer aan ’n Paralimpiese Spelebyeenkoms deelgeneem het en ’n opskudding veroorsaak het toe hy ’n goue medalje in die 200 meter-naelloop en ’n bronsmedalje in die 100 meter-naelloop verower het, en boonop twéé wêreldrekords opgestel het, verklaar die talentvolle 17-jarige in ’n onderhoud met Rapport van 23 Januarie 2005: ‘Op ’n arrogante manier het ek myself nog nooit as ’n gestremde beskou nie.’
In 2012 maak hy ’n soortgelyke stelling in ’n onderhoud met die tydskrif Finesse: ‘Ek het niks om myself oor jammer te kry nie. Ek het ’n liggaamlike gebrek, maar dit het my nog nooit daarvan weerhou om iets te bereik nie.’
Ook in die voorwoord van sy memoires, Blade Runner: My Story, skryf hy: ‘Om die waarheid te sê, ek dink nie aan myself as gestremd nie. Ek het beperkinge, maar ons almal het beperkinge en, net soos enigiemand anders, het ek ook baie talente. Hierdie houding is integraal tot my familie se benadering tot die lewe, en hulle filosofie het my die man gemaak wat ek vandag is: “Hierdie is Oscar Pistorius, presies soos hy moet wees. Perfek in homself.’’ ’
Maar nou, jare later, is sy gestremdheid sy hoofverweer in ’n hofsaak wat die hele wêreld byna drie maande lank voor hul televisiestelle vasgenael gehou het. ‘Ek was bang. Ek het geglo my lewe word bedreig,’ het hy tot op die laaste dag van sy kruisondervraging volgehou. ‘Ek was oorval deur ’n gevoel van vrees en kwesbaarheid.’
Reeds op die eerste dag van sy getuienis, wat vyf dae geduur het, het hy die hof vertel van sy vrees, en hoe dit aangevuur is deur sy gestremdheid. Tydens die hofsaak het hy selfs sy prosteses afgehaal om te wys hoekom hy weerloos sou voel teenoor ’n indringer in sy huis. Was dit ’n aaklige misverstand wat hom laat skiet het op wat hy gedink het is ’n inbreker? Het die vrees vir misdaad en ’n gebrek aan vertroue in die polisie om Suid-Afrikaners daarteen te beskerm hiertoe bygedra, soos sy pa, Henke, op 3 Maart 2013 in ’n onderhoud met die Britse dagblad The Telegraph beweer het? ‘Wanneer jy in die middel van die nag wakker word – en misdaad is so endemies in Suid-Afrika – wat doen jy as iemand in die huis is? Dink jy dis een van jou familielede? Natuurlik doen jy nie.’ Pistorius het verder vertel hoe sy hele familie, Oscar ook, ’n verskeidenheid wapens (altesaam 55) besit. ‘Party van dit is vir jag en party – die handwapens – is vir beskerming. Dit spreek tot die ANC-regering. Kyk na die vlakke van misdaad teen wit mense. Hoekom is beskerming so power in hierdie land? Dis ’n aspek van ons samelewing.’
Sowel Oscar as sy oom Leo Pistorius het hulle van hierdie uitspraak gedistansieer, maar tydens Oscar se getuienis het aspekte van die vrees vir misdaad en die wantroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) egter wel opgeduik.
Of was Reeva Steenkamp die tragiese slagoffer van ’n liefdesrusie, ironies genoeg in die vroeë oggendure van die dag waarop minnaars mekaar bo alles anders behoort te stel?
En, seker die belangrikste vraag van almal: Het geregtigheid geskied?
‘Oscar Pistorius skiet sy vriendin in sy huis dood omdat hy glo dink sy is ’n inbreker.’ Dis Donderdag 14 Februarie 2013. Om 08:03 breek Fanie van Rooyen, ’n Beeld-joernalis, die skoknuus met hierdie twiet. Vir Van Rooyen is dit die scoop van ’n leeftyd, vir Oscar Pistorius die begin van ’n openbare nagmerrie wat sy lewe vir altyd sou verander.
Presies ’n minuut later verskyn Van Rooyen se storie, die eerste nuusberig oor die tragedie, onder die opskrif ‘Oscar skiet vriendin; in hegtenis geneem’ op Beeld se webwerf:
Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het Donderdag omstreeks 04:00 sy vriendin van die afgelope jaar in sy huis in Silver Woods Country Estate, Pretoria, doodgeskiet.
Hy het glo gedink sy is ’n inbreker.
Kaptein Sarah Mcira van die polisie het bevestig Pistorius se vriendin is in die arm en die kop geskiet. Sy is op die toneel dood.
Pistorius is in hegtenis geneem in verband met die voorval en sal na verwagting later Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Die media word nie in die Silver Woods Country Estate toegelaat nie.
Die lykswa wat sy vriendin se lyk verwyder het, het omstreeks 08:30 uit die landgoed uitgery.
Pistorius was nog op die toneel waar die polisie besig was om hom te ondervra. Hy was na wat verneem word erg geskok.
Dié berig is teen 16:00 die middag reeds 102 200 keer gelees, en die opvolgberig 101 300 keer – ’n nuwe rekord vir Beeld se webwerf. Binne minute gons dit op sosiale media. Twitter ontplof. Van Rooyen se oorspronklike twiet waarin hy die nuus breek, word binne ure 4 634 keer hertwiet. Dit is al waaroor Suid-Afrikaners – en heel gou die hele wêreld – nou praat. Teen laatmiddag op 14 Februarie was daar meer as 4 300 twiets per uur met die hutsmerk #OscarPistorius. Die feit dat bekende internasionale joernaliste, soos CNN se Piers Morgan, met sy meer as drie miljoen volgelinge, feitlik dadelik begin twiet het oor die voorval, het daartoe bygedra dat die nuus van die moord wêreldwyd soos ’n veldbrand versprei het.
Twitter word binne dae die voorkeurmedium vir mense wat op hoogte van die gebeure wil bly, en veral toe die borgtogverhoor in hof C van die landdroshof in Pretoria eers begin. Eintlik, op ’n bisarre, ironiese manier, vestig hierdie tragedie Twitter as nuusbron in Suid-Afrika op ’n manier wat geen ander nuusbron nog ooit kon regkry nie. Dis ’n tragiese ironie dat Reeva Steenkamp, tot nou toe ’n relatief onbekende model wat nog net van groot roem gedroom het, wêreldberoemd gemaak word deur die miljoene twiets wat oor haar dood bespiegel. Gewone mense teken in op Twitter om op hoogte te bly van die jongste nuus oor die gebeure. Niemand wil iets misloop nie. Soos die Eyewitness News (EWN)-joernalis Stephen Groottes dit stel in ’n berig in Business Day van 21 Februarie 2013: ‘Suid-Afrikaners het ’n onversadigbare aptyt vir ontwikkelinge in die Pistorius-saak. En hulle volg nie die storie deur die tradisionele media van koerante, TV en radio nie, maar deur die kortboodskapdiens Twitter. Die manier waarop Twitter die hofsaak dek, en die kommentaar wat dit verskaf, gaan waarskynlik ’n beduidende invloed hê op die tradisionele media, en ook op die loopbane van verslaggewers in die hof … Hierdie is ’n situasie waar woorde inligting vinniger oordra as wat foto’s of selfs regstreekse uitsendings, in sommige gevalle, dit kan doen.’
Dwarsdeur die verhoor sou dit so bly, maar in die borgtogverhoor, waar geen regstreekse uitsending via televisie of radio toegelaat is nie, was dit veral opmerklik.
Daar is feitlik dadelik kant gekies. Opmerkings op sosiale media wissel van ‘watter aaklige tragedie’ tot ‘ja, ek het nog altyd geweet daar is iets nie lekker nie’. Feitlik nog voor enige verdere inligting bekend gemaak word, bespeur ’n mens klaar twee duidelike kampe as dit kom by die skietvoorval: die Pistorians (soos Oscar-aanhangers binne dae gedoop sou word) teen die res.
Vir meer inligting oor dié titel, kliek hier.