Information about the book
Ek word in intensiewe sorg geplaas, maar my toestand versleg steeds. Die glukosevlak in die serebrospinale vog (SSV) van ’n normale, gesonde mens is sowat 80 milligram per desiliter. ’n Uiters siek mens met bakteriële meningitis wat op die randjie van die dood is, kan ’n vlak van so laag as 20 mg/dl hê. My SSV-glukosevlak is 1 mg/dl. My Glasgow Komaskaal is agt uit vyftien, ’n aanduiding van ernstige breinsiekte, en sou binne die daaropvolgende paar dae verder verswak. My APACHE II-telling (Acute Physiology and Chronic Health Evaluation) in die noodeenheid was 18 uit ’n moontlike 71, wat daarop dui dat my kans om te sterf sowat 30 persent was. Met inagneming van die diagnose van akute Gram-negatiewe bakteriële meningitis en die vinnige neurologiese agteruitgang, het ek by toelating tot die noodeenheid net sowat ’n tienpersentkans gehad om te oorleef. As die antibiotika nie begin werk nie, sal die mortaliteitsrisiko binne die volgende paar dae onverbiddelik styg – totdat dit die onomkeerbare 100 persent bereik. Voordat ek na my nuwe tuiste, ’n groot private saal, nommer 10, in die intensiewesorgeenheid oorgeplaas word, besluit die dokters om aan my drie kragtige intraveneuse antibiotika toe te dien.
As chirurg het ek dikwels intensiewesorgeenhede besoek. Die heel siekste pasiënte, dié wat op die randjie van die dood is, word hier geplaas waar hulle tegelyk deur ’n hele span mediese personeel behandel kan word. So ’n span wat op gekoördineerde wyse saamwerk om ’n pasiënt tot elke prys aan die lewe te probeer hou, is ’n indrukwekkende gesig. In hierdie soort omstandighede het ek as dokter nie net geweldige trots nie, maar ook bitter teleurstelling ervaar – na gelang van die sukses wat ons gehad om die pasiënt se lewe te red.
Dr Brennan en die ander dokters bly so positief teenoor Holley as moontlik in die omstandighede. Dit beteken nie dat hulle so positief voel nie. Inderwaarheid is die kans groot dat ek binnekort kan sterf. Selfs al sou ek nie sterf nie, het die die bakterieë wat my brein aanval waarskynlik reeds aansienlike dele van my korteks vernietig en alle hoërbrein-aktiwiteit in gevaar gestel. Hoe langer ek in ’n koma bly, hoe groter is die kans dat ek die res van my lewe in ’n chroniese vegetatiewe toestand sal deurbring.
Gelukkig is daar benewens die personeel van Lynchburg General Hospital ook ander mense wat regstaan om te help. Michael Sullivan, ons buurman en die predikant van ons gemeente, kom ’n uur na Holley by die noodeenheid aan. Net toe Holley by die deur uit is om agter die ambulans aan te ry, lui haar selfoon. Dit is haar ou vriendin Sylvia White. Sylvia het die vermoë om altyd uit te reik wanneer belangrike dinge gebeur. Holley is oortuig dat sy heldersiende is. (Ek het altyd die veiliger en verstandiger verklaring verkies dat sy maar net goed kan raai.) Holley vertel Sylvia kortliks wat aan die gang is, en Sylvia help om gou my naaste familie te bel: my jonger suster Betsy, wat naby woon, my jongste suster Phyllis, wat in Boston woon en Jean, die oudste.
Dié Maandagoggend is Jean toevallig van haar tuisdorp in Delaware in ’n suidelike rigting deur Virginië op pad om ons ma te help, wat in Winston-Salem woon. Jean se selfoon lui. Dis haar man, David.
“Is jy al verby Richmond?” vra hy.
“Nee,” antwoord Jean. “Ek is net noord van Richmond op die I-95.”
“Neem Roete 60 wes, dan Roete 24 na Lynchburg toe. Holley het nou net gebel. Eben is in die noodeenheid daar. Hy het vanoggend ’n toeval gehad en is nou bewusteloos.”
“Ag nee, weet hulle wat is fout?”
“Hulle is nie seker nie, maar dit kan meningitis wees.”
Jean neem net betyds die afrit en ry met die sekondêre Roete 60 wes, op en af oor die heuwels en deur die lae wolke in die rigting van Roete 24 en Lynchburg.
Phyllis is die een wat drieuur die middag vir Eben IV by sy woonstel by die Universiteit van Delaware bel. Eben sit buite op die stoep besig met ’n wetenskaptaak toe sy foon lui. (My pa was self ’n neurochirurg, en Eben stel ook belang in dié rigting.) Phyllis bring hom gou op hoogte van wat gebeur het en stel hom gerus – die dokters het alles onder beheer.
“Het hulle enige idee wat dit kan wees?” wil Eben weet.
“Wel, hulle praat van Gram-negatiewe bakterieë en meningitis.”
“Ek het twee eksamens in die volgende paar dae, ek moet net vir my dosente laat weet.”
Eben het my later vertel dat hy aanvanklik nie vir Phyllis wou glo dat ek in groot gevaar verkeer nie, omdat sy en Holley “altyd dinge oordryf” – en ek nooit siek word nie. Maar toe Michael Sullivan hom ’n uur later bel, besef hy dat hy hospitaal toe moet gaan – onmiddellik.
Eben is nog op pad toe dit begin dit reën, ’n ysige, deurdringende bui. Phyllis het sesuur uit Boston vertrek, en toe Eben die brug oor die Potomac-rivier oorsteek tot in Virginië, vlieg sy deur die wolke bokant hom. Haar vlug land op Richmond, sy huur ’n motor en neem Roete 60 na Lynchburg.
’n Paar myl buite Lynchburg bel Eben vir Holley.
“Hoe gaan dit met Bond?” vra hy.
“Hy slaap al,” sê Holley.
“Dan gaan ek reguit hospitaal toe.”
“Is jy seker jy wil nie eers huis toe kom nie?”
“Nee, ek wil net vir Pa sien.”
Eben hou om 11:15 nm by die intensiewesorgafdeling van die hospitaal stil. Die paadjie na die hospitaal is al toe onder die ys. Die ontvangsarea is helder verlig en daar is net ’n nagsuster. Sy neem hom na my bed in die intensiewesorgeenheid.
Almal wat vroeër die dag daar was, het intussen huis toe gegaan. Die enigste geluide in die groot skemerdonker vertrek is die sagte suis- en biepgeluide van die masjiene wat my aan die gang hou.
Eben steek vas in die deur toe hy my sien. In sy twintig jaar het hy my nog nooit met meer as ’n verkoue gesien nie. Nou, ondanks al die toerusting wat my oënskynlik aan die lewe hou, sien hy iets wat in alle praktiese opsigte ’n lyk is. My fisieke liggaam lê daar voor hom, maar die pa wat hy geken het, is weg.
Of miskien is ’n beter woord om te gebruik: elders.