ISBN
9781776092314
Format
Paperback
Recommended Price
R240.00
Published
March 2018
About the book:
Plofbare opinies was nog altyd ’n onderskeidende kenmerk van Afrikaners. Politici, skrywers, joernaliste en die man op straat was nog nooit skaam om by bekgevegte betrokke te raak nie. Tradisioneel was die gedrukte media die forum waar polemieke uitgewoed het. In die vroegste dae aan die Kaap is die slawekwessie driftig gedebatteer, en toe die Voortrekkers hulle skrede noordwaarts gerig het, het teenstrydige argumente uitgespeel in een van die vroeë Suid-Afrikaanse koerante, Grocott’s Mail.
Die waarde van gesprekke in die aanloop en nadraai van geskiedkundige gebeure soos rebellies, opstande en oorloë kan nie onderskat word nie. Politieke verwikkelinge soos Suid- Afrikaners se gesprekke met die ANC toe dié organisasie nog verban was, het die hele land aan die stry gehad. Om nie te praat van Afrikaans en sy rasse-bagasie of kerksake soos die Belharbelydenis en die hantering van gay lidmate nie. En wie sal die spanning wat tussen H.F. Verwoerd en N.P. van Wyk Louw ontstaan het met die pluimsaad-polemiek, vergeet?
Piekniek by Dingaan en die Voëlvry-beweging het nie net opskuddings op kultuurgebied veroorsaak nie. Ook het die eggo’s van kwessies soos “gemengde” sport en boikotte, en die skandes wat sportsterre soos Hansie Cronjé, Joost van der Westhuizen en Oscar Pistorius veroorsaak het, in alle sfere van die samelewing weerklink.
Misdaad soos plaasaanvalle en -moorde is daagliks op Suid-Afrikaners se lippe, net soos wat daar steeds oor figure soos Daisy de Melker, Gert van Rooyen en Joey Haarhoff gegons word. In Polemieke bied Gabriël Botma lesers ’n blik op bekende én byna vergete woordtwiste wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis help slyp het. Karakters wat ’n sentrale rol in Afrikanerpolemieke gespeel het, word aan die vergetelheid ontruk, en hedendaagse polemici kom onder die loep. Binne die konteks van Afrikaner-nasionalisme het dié strydpunte deurgaans gelei tot groter insig onder betrokkenes en lesers, maar terselfdertyd is die verdelingslyne wat van ver af kom, dieper afgeëts.